|
Sy was 'n weeskind. Toe albei haar ouers gesterf het, het hy haar aangeneem. Hy het haar opgevoed volgens die Joodse tradisie. Die Bybel sê sy was "skoon van gestalte en mooi van aansien," in ons dag sou ons sê sy was pragtig en was mooi gebou. Die Koning het 'n vrou gesoek.. Hy het bevel gegee dat al die mooi meisies na sy paleis gebring word. Soos die verhaal van aspoestertjie, is sy toe ook gekies, maar haar pleegvader het haar gewaarsku om nie haar herkoms bekend te maak nie. Die meisies is vir 'n jaar lank voorberei . Nogtans was hierdie 'n skoonheidskompetisie van 'n ander aard, want die wenner sou die kroon ontvang en sy sou koningin word. Hy het dag vir dag voor die voorhof van die vrouehuis gewandel om te verneem hoe dit met haar gaan en wat van haar gaan word. Toe die groot gala-aand aanbreek wen sy met vlieënde vaandels en die koning het die maaltyd van Ester aangekondig. Ja, daar is fees-gevier. Steeds getrou aan haar belofte vertel sy nie aan die koning dat sy 'n Jodin is nie. Terwyl hy eendag in die poort van die koning sit hoor hy hoe twee van die drumpel-wagters 'n komplot smeë om die koning om die lewe te bring. Mordegai vertel dit aan Ester wat dit weer aan die koning oordra. Die twee is toe aangekeer en het aan die galg gesterf. Dié insident word in die boeke aangeteken. Die Koning besluit daarna dat dit tyd is vir Meriete-toekenning. Een van sy dienaars kry rangsbevordering. Dis mos 'n ding wat maklik na jou kop toe kan gaan. Daarbenewens het die koning bevel gegee dat al die dienaars in die poort voor Haman moes buig. Almal het . behalwe Mordegai, toe die ander hom daarna vra meld hy dat hy 'n Jood is. Ons weet in die boek van Ester verskyn die Here se naam nie eenmaal nie, maar die gevolgtrekking was dat 'n Jood nie voor 'n heiden sou neerval nie, en bowenal is God alleen aanbiddens-waardig. Tipies soos dit in die samelewing gaan kry mens mos dié persone wat jou so bietjie wil druk om te kyk of jy dan nou regtig bedoel wat jy sê. Want dit skyn vir my asof ou Haman dit nie eers agtergekom het nie, totdat dit onder sy aandag gebring is dat die sodanige Jood nie voor hom wou neerval nie. Waar dit hom glad nie eers gepla het nie het Mordegai nou die steen des aanstoots geword, maar Haman het gedink dat as mens iets doen moet jy dit goed doen, en hy besluit dat hy sommer van die hele spul Jode wil ontslae raak. Die spreekwoord sê geld is die wortel van alle kwaad. Dis dan ook Haman se skuifmeul. Ester 3V 8 "Toe sê Haman vir koning Ahasveros: "Daar is 'n volk wat versprei is oor al die provinsies van u koninkryk en wat hulle self apart hou van die ander volke. Hulle gebruike verskil van al die ander nasies s'n en hulle gehoorsaam nie die wette van die koning nie. Dit is nie in die koning se belang om hulle te laat begaan nie. V9 As u dit goed vind, vaardig 'n proklamasie uit om hulle uit te roei. Ek sal dan drie honderd twee-en-veertig ton silwer lewer aan u ontvangers van inkomste om dit in die skatkis te plaas." Die koning was beindruk en verseël die proklamasie met sy seëlring. Hy skenk die silwer aan Haman. Die die boodskap word met die "Fast Mail" versprei. Die dag en datum was die 13de van die 12de maand, dan sou die "seun sowel as die grysaard die kindertjies sowel as die vroue van alle Jode dood gemaak word." Die Koning en Haman sit en drink, terwyl daar chaos heers in die stad Susan. Mordegai is letterlik in sak en as. Hy stuur 'n afskrif van die proklamasie na Ester en versoek dat sy die saak aan die koning opdra en om voorspraak te doen vir die volk. Sy stuur 'n boodskap terug, al die Jode moet vir 3 dae vas- geen voedsel en geen water. Op die derde dag gaan sy na die koning en toe hy sy goue septer na haar uitsteek besef sy dat daar hoop is.Toe doen die koning 'n ding waaroor menige al spyt gekry het en wat Johannes die Doper se kop op 'n skinkbord laat land het, hy vra wat Ester wil hê, want dit wat sy versoek sal sy kry. Interessant genoeg nooi sy vir Haman na ete. Sy kry nog 'n versoek en weer nooi sy Haman vir ete die daaropvolgende dag. Dis dan ook juis toe Haman weer by die poort uitgaan dat sy bloed kook en hy laat die galg bou vir Mordegai op aanbeveling van sy vrou. Die volgende oggend sou hy die koning daaroor inlig. Hierdie donker wolk se rand verkleur juis die donkerte van die nag, toe die koning rondrol en nie kan slaap nie. Hy versoek dat daar vir hom voorgelees word, en toe die naam van Mordegai wat die komplot teen sy lewe bekend gemaak het, gelees word, besef hy dat Mordegai nooit erkenning gekry het vir die goeie daad nie. Ironies dat die selfvoldane Haman dan juis die een is wat gevra word, wat met die man gedoen moet word wat deur die koning vereer word. Omdat hy doodseker was dat dit juis hyself is, het hy 'n koninglike kleed en perd voorgestel maar daarby moet een van die vorste dit vir die persoon aantrek. Terwyl die persoon dan deur die stad ry moet die vors uitroep "so word gedoen aan die man aan wie die koning eer wil bewys." In sy verbeelding kon hy homself al sien, wat 'n eer. Hierdie eer word omskep in Haman se grootste vernedering ooit. Want hy is toe die vors wat gekies word om Mordegai sy aartsvyand en nog Jood daarby deur die strate te begelei. Net daarna word Haman deur die koning se hofdienaars na die maaltyd wat hy aan Ester beloof het, gebring. Daar vereenselwig Ester haar die eerste keer met haar volk en sy vertel die koning dat Haman hulle almal wil uitroei. Haman sterf aan die galg wat hy vir Mordegai gereed gemaak het. Wat hou die verhaal van Ester vir ons in.? Ek glo dat ons in die laaste dae lewe. Soos Ester het die Here voorsien dat daar vandag van Sy getroue kinders op verskillende plekke en vlakke van die samelewing inbeweeg het. Wanneer die eindtye aanbreek sal ons soos Mordigai getoets word of ons regtig bedoel wat ons sê. Sal ons buig voor menslike wette of alleenlik voor God se Wet. Wanneer die vervolging kom weet ons sal dit 'n tyd wees van Jakob se benoudheid, sommige sal met hulle lewens betaal, terwyl ander nou reeds in die graf gebêre word, maar wanneer die wolk op sy donkerste is sal die lig van Jesus se wederkoms deurbreek. Die BLYE VERSEKERING in hierdie verhaal sien ons hoe elke ding ten goede meewerk wanneer ons getrou aan ons waardes en standaarde bly. Dan die mooiste van hierdie verhaal wat my besiel met hoop en iets om na uit te sien. Die Vors van die Heelal gaan ons inlei Openb 7:V9 Hierna het ek 'n groot menigte gesien wat niemand kon tel nie. Hulle was van elke nasie, stam, volk en taal en het voor die troon en voor die Lam gestaan. Hulle het wit klere aangehad, en daar was palmtakke in hulle hande. Hoor jy nou hoe God met jou praat? Stuur 'n nota of gebedsversoek. |