|
Hy was `n owerste. Hy het so pas aanskou hoe Jesus die kindertjies seën. Hy besef met `n ongekende sekerheid dat hy verlang om sy dissipel te wees. "Goeie Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe" "Waarom noem jy My `goed`? Niemand is goed nie behalwe een, naamlik God. Wat Jesus eintlik vir die jongman sê, is: Jy weet wie Ek is. Toe sê Jesus aan Hom dat hy die gebooie moet onderhou. Die owerste voel of `n berg van sy skouers afrol want dis tog nie so moeilik nie. As hy homself meet teen al die tollenaars en die heidene wat afgode aanbid, dan weet hy verseker dat hy "al hierdie gebooie van sy jeug af onderhou" Toe hy in Jesus se oë kyk sien hy vir `n oomblik soveel emosies. Hy sien liefde, jammerte hartseer en verlange. Toe, dié woorde: "Een ding kom jy kort .-gaan verkoop alles wat jy het gee dit aan die armes, .kom dan hier neem die kruis op en volg My. Is dit regtig moontlik? Kan net een ding wat ek kortkom my uit die Koningryk uithou? Jesus het die jongman op die proef gestel. Toe hy `n keuse moes maak, het hy dit gekies wat sy hart besit het nl. sy rykdom. Jesus sê vandag vir jou en vir my, neem jou kruis op en volg jy my, maar Hy sê ook:- EEN DING kom jy kort, . Een ding wat tussen jou en `n volkome oorgawe staan, net een ding. Dit het my opnuut laat besef hoe belangrik een ding vir die Here is, een verlore skaap, een verlore seun, een verlore geldstuk, een tiende, een vrou. Een keuse wat ek moet maak is dan juis die grootste keuse van my lewe. Onthou u vir Judas by die laaste maaltyd, Jesus het Hom met die grootste takt gewaarsku dat Hy weet van sy keuses, nogtans het sy geldsug die grootste tol ge-eis. Onthou u vir koning Agrippa, toe hy gesê het: Jy beweeg my byna om `n Christen te word? So kan mens aangaan: Daar was Eva se een keuse, wat van Kain Esau, Jakob, Simson, Dawid, en Salomo. Wat is die een ding wat ek kort? Een ding wat tussen my en die Ewige lewe staan. Die blindgeborene wat deur Jesus genees is het gesê: "Een ding weet ek : dat ek blind was en nou sien. Jesus het vir Martha gesê Een ding is nodig; en Maria het die goeie deel uitgekies. Die BLYE VERSEKERING vir vandag is dat 'n volkome oorgawe daardie een ding kan verwyder. Jesus staan met uitgestrekte hande en Hy nooi jou: Moenie dat Hy eén dag langer wag nie. Hebreërs 4 :7 sê: "Vandag, as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie." Wie weet miskien is hierdie jaar juis die besondere jaar, wat daar vir jou uitkoms en redding sal kom. Sluit net jou oë vir 'n oomblik en doen daardie EEN DING, gee jou volkome oor aan Hom. INDIEN U SY STEM GEHOOR HET TERWYL U HIER GELEES HET, STUUR GERUS VIR MY 'N BOODSKAP sodat ONS VIR U KAN BID. |