Terug na Webtuiste    Die Klereman   Na nr.5  Waar is jy?

Hierdie is 'n vreemde verhaal. Ek het onverwags daarop afgekom, maar wag, laat ek vertel. Walter Wangerin vertel: (Vrye vertaling)

Een Vrydagoggend baie vroeg, ja nog voor dagbreek het ek 'n jong man op- gemerk. Hy het deur die gangetjies en agterstrate van ons stad beweeg met 'n ou wa, oorlaai met klere skitterblink en nuut. Met 'n helder tenoor stem het hy uitgeroep! "Klere ! Klere ! Nuwe klere vir jou oues Klere!"

Die lug was dof van die rookbesoedeling en 'n muwwe bedompige reuk het om my gehang. Dit was vir my regtig vreemd. Hierdie man se kontras met die omgewing. Hy was ongeveer 6vt 4 met stewige sterk arms. Hy het helder oë gehad wat intelligensie uitgestraal het. Is dit moontlik? Kon hy dan geen beter werk kry as om 'n Klereman te word nie, en dit in die agterbuurtes van ons stad.Nogtans kon ek my oë nie van Hom afhou nie en het Hom ongesiens gevolg. My nuuskierig het my aan gedryf. Ek was nie teleurgestel nie.

Die Klereman sien kort daarna 'n vrou wat op die agterstoepie van haar huis sit.Sy het gesit en snik in haar sakdoek, ja sy het onbedaarlik gehuil. Ek het nog nooit soveel trane in een oomblik gesien nie, dit het gelyk of haar hart wou breek. Die Klereman het stilgehou met Sy wa vol klere. Saggies het hy nadergestap tussen die blikke en ou afval deur. Met 'n sagte warm stem sê Hy: "Gee vir My jou klere, dan gee ek vir jou ander." Hy neem die sakdoek van haar oë af. Sy kyk op, en hy lê in haar hand 'n wit linnedoek so wit en skoon dat dit eintlik blink. Haar blik wissel van die geskenk en dan na die Gewer.

Die Klereman begin weer om Sy wa te trek, en toe doen Hy 'n baie eienaardige ding. Hy sit die vuil sakdoek teen Sy gesig en Hy begin bitterlik huil, ja Hy snik soos Hy huil totdat Sy skouers skud. Tog was sy agter-gelaat sonder 'n traan. Hierdie is beslis vreemd het ek aan myself gesê, terwyl ek die snikkende Klereman volg, vasgevang in verwondering.

"Klere ! Klere ! Nuwe klere vir jou oues…..Klere! Klere!"

Kort daarna kom die Klereman 'n jong meisie teë. Daar was 'n verband om haar kop terwyl sy met leë oë voor haar uitstaar. Bloed het die verband deurdrenk terwyl 'n straaltjie bloed langs haar wang afloop. Die lang Klereman kyk met deernis na die jong kind, terwyl Hy 'n helder geel hoedjie uit Sy wa haal. "Gee vir My jou klere, dan gee ek vir jou ander.", sê hy sag.

Sy staar Hom in verwondering aan terwyl Hy haar kopverband verwyder en dit om Sy kop draai. Die pragtige geel hoedjie het Hy vir haar opgesit. Ek was verstom met wat ek sien want saam met die verband gaan die wond. Langs Sy kop loop 'n straaltjie bloed, merkbaar anders, Sy eie.

"Klere! Klere! Ek neem ou klere sê die huilende bloeiende sterk intelligente Klereman.

Die son begin warm word en ek sien hoe die Klereman haastig raak." Gaan jy werk toe?" vra Hy aan 'n man wat teen 'n paal leun. Die man skud sy kop "Het jy 'n werk?" Los my uit ! gil die man as hy van die paal wegstaan. Toe word die regtermou van sy baadjie sigbaar waar dit leeg rondwaai sonder 'n arm daarin. "So? Sê die Klereman gee vir my jou baadjie,…dan gee ek jou myne." Tog praat hy met 'n sagte stem maar tog ook met soveel gesag. Die man met die een arm het sy baadjie uitgetrek , die klereman ook. Ek het gebewe toe ek sien die Klereman se arm het in Sy mou gebly. Toe die ander man Sy baadjie aantrek het hy twee sterk arms maar die Klereman het nou net een. " Gaan werk" sê Hy sag, maar ferm.

Kort daarna kry Hy 'n dronklap waar Hy bewusteloos onder 'n weermag kombers lê en slaap. Hy vat die ou kombers en draai dit om Hom maar vir die dronklap los Hy nuwe klere.

Nou moes ek my haas om by te bly. Alhoewel die Klereman onbedaarlik gehuil het, en vrylik gebloei het, terwyl hy sy wa met een arm trek, het Hy geslinger van dronkenskap en al vallende het Hy vorentoe gebeur, uitgeput en siek. Al vinniger en vinniger het Hy deur die stad getrek terwyl Hy het al hoe ellendiger daar uitsien. Ek kon Sy lyding nie aanskou nie tog wou ek sien waarheen Hy Hom haas, wat het Hom so aangedryf? Ek voel hoe die hartseer in my binneste opwel miskien kan ek Hom help maar dis of 'n onsigbare hand my teëhou.

Ek sien die klein verwese Klereman tog is Sy oë so helder. Hy klim op 'n heuwel. Met Sy laaste krag maak Hy 'n plekkie op die heuwel skoon. Hy sug. Toe gaan Hy lê met Sy kop op 'n sakdoek en 'n baadjie en bedek Sy bene met 'n weermag kombers. Toe sterf Hy.

Ag toe ek Sy dood aanskou het ek in 'n ou motorwrak geklim en ek het gehuil soos iemand sonder hoop. Want julle sien ek het lief geword vir die Klereman. Elke ander gesig het uit my gedagtes verdwyn wanneer ek aan die wonder en liefde van die Klereman dink. Terwyl ek so na Hom verlang is dit stukkend in my binneste want ek weet die Klereman is dood. Ek het myself aan die slaap gehuil….. Ek het nie geweet nie,-Hoe kon ek weet? Ek het Vrydagnag geslaap die hele Saterdag en ook daardie nag.

Sondagoggend word ek van 'n geraas wakker.  Lig so helder en deur-dringend slaan teen my gesig aan.  Ek knip my oë want dis toe, dat ek die grootste wonder van alles aanskou.  Daar was die Klereman!  Terwyl Hy die kombers versigtig opvou, sien ek die litteken op Sy voorkop, maar Hy leef!  En Hy is gesond!  Daar was nie 'n teken van hartseer of ouderdom nie.  Al die klere wat hy versamel het het geblink van skoonheid.

Terwyl ek my kop in skaamte laat sak en bewend staan, na alles wat ek aanskou het, gee ek Hom my naam. Ek was….. verwese teenoor Hom. Toe doen ek dit…ek trek my klere alles uit en met die grootste verlange in my hele wese vra ek: "Klee' my" Hy het my aangetrek. Die Klereman het vir my Sy nuwe klere aangetrek, want sien die Klereman is Jesus my Verlosser. Dit is die BLYE VERSEKERING vir vandag.

Openb. 3:V5 Elkeen wat die oorwinning behaal, sal sulke wit klere dra. Ek sal nooit sy naam uit die boek van die lewe uithaal nie, en Ek sal voor my Vader en voor sy engele verklaar dat hy aan My behoort.

Vra vandag die Klereman vir jou nuwe klere.

MISKIEN HOOR JY DAARDIE SAGTE STEM HIER IN JOU BINNESTE PRAAT STUUR U NAAM OF GEBEDSVERSOEK SOMMER NOU!

Stuur 'n nota of gebedsversoek.

Terug na webtuiste